BESTELLINGS
Bestellings vir leerderboeke en onderwysgidse word geplaas by Aristata Boekhuis, die uitgewersgenoot wat die bestellings namens SASNEV, die outeur, hanteer.
LEERDERBOEKE
Graad 6 leerderboek
Kom, leer saam. In die leerdergids vir Graad 6 ontmoet jy Asterix en sy vriend Obelisk, Mannekin Pis van Brussel, Antigoon (daardie fabelagtige reus) van Antwerp – en die Smurf-familie (jy ken mos die kolonie fiktiewe, blou karakters wat in sampioene in België woon). Dié ou bekendes het almal ’n konneksie met die Lae Lande. En of dit stories van ware helde en avontuur of fantasie is, kuier jy in ’n nuwe wêreld!
Graad 7 leerderboek
Die Graad 7 leerderboek herinner jou lekker eet is meer as brandstof vir die lyf – dink aan lekkernye soos biltong, braaivleis of melktert en koeksisters! Ons proe en voel, onthou en dink as ons eet! Dis koningskos! Uit die Lae Lande maak ons ook kennis met nuwe moontlikhede, soos snert (ertjiesop), stamppot, uitsmyters, muisjes (muisies – eintlik anyssaadjies), frieten (skyfies) en meer. Eet saam!
Graad 8 leerderboek
Ridders op perde, kastele en bankette dateer uit vervloë tye, maar ons ken dit vandag veral uit fantasiereekse op TV, soos Game of Thrones. Die Lae Lande is die prefekte agtergrond om nader kennis te maak met daardie wêreld. In die graad 8 leerderboek kan ons sien ons het vandag steeds ridders en rolmodelle en hoe goed die woorde en begrippe dáároor behoue gebly het deur die eeue.
Graad 9 leerderboek
Almal weet die Lae Lande is perfek vir fietsry – dis die mees algemene vorm van vervoer in daardie streke. Dit is die tema van die graad 9 leerderboek. Dis mos ons elkeen se droom om jou eie wiele te hê! Al is dit aanvanklik net twee, en al draai hulle met voetkrag! Dink ook net daaraan dat fietsry die jonges in daardie lande soveel groter onafhanklikheid besorg – en dan word hulle nog fiks ook!
Graad 10 leerderboek
Het jy al van ’n vakansiepark gehoor? In die graad 10 leerderboek word jy vertel hoe kampeer die mense in die Lae lande in vakansieparke – by die see, in woude of elders in Europa in die berge. Dit is beslis nie net in Suid-Afrika wat mense dol is oor kampeer nie – ons is regtig baie eenders, al doen ons dinge soms ook anders. En dan is daar natuurlik nog ander maniere om vakansie te hou!
Graad 11 leerderboek
In die graad 11 leerderboek kom sprokies ter sprake – maar uit die hoek van die moderne stadskind. Die stadslewe is ’n wêreld waaroor die meeste jong mense droom. En jy dink dalk sprokies is vir kleintjies, maar eintlik is dit vir almal – want dit gaan gewoonlik oor gevare en avonture wat na geluk lei. Luister net na Koos du Plessis se “Sprokie vir ’n stadskind” om te hoor hoe betowerend die neonboog in die land van blou safiere weerklank vind. Wat sou jou eie sprokie wees?
ONDERWYSERSGIDSE
Graad 6 onderwysersgids
Met die lespakket vir graad 6 word leerders aan die Nederlandse kultuur, taal en letterkunde bekend te stel. Dit heet Aangename kennis! in Afrikaans, en Prettig met je kennis te maken! in Nederlands. Leerders se fokus skuif daarmee van hul bekende Afrikaanse terrein in Suid-Afrika na die nuwe wêrelde van Nederlands en Nederland en België. Die fokus is veral op dit wat dieselfde in die onderskeie lande en tale is, maar daar word ook gekyk na dit wat anders is.
Graad 7 onderwysersgids
Die tema van die lespakket vir graad 7 is die kos op ons bord – aan die hand van verskillende geregte – in die Nederlandse kultuur, taal en letterkunde. Daar word gekyk na hoe Nederlandse en Belgiese kos eenders is aan kos in Suid-Afrika, maar ook hoe dit verskil (anders is). Die fokus verskuif van tradisionele geregte na die kos wat die inwoners daar vandag eet. Leerders woord aangemoedig aan om navorsing oor Nederlandse en Belgiese geregte te doen, dit te maak en proe, en daaroor te praat en skryf!
Graad 8 onderwysersgids
Ridders – die tema vir graad 8 – word geassosieer met ’n ouwêreldse romantiek, hoflikheid en avontuur. Dit lei maklik tot die ewige behoefte vir rolmodelle – altyd ’n belangrik vir ons jeug. Leerders maak kennis met bekende Nederlandse en Belgiese rolmodelle en leer hoe om eienskappe van die ridders van weleer ’n deel van hul emosionele en geestelike wapenrusting te maak. Die leerders word aangemoedig om hul rolmodelle krities te bekyk en hul aandag word daarop gevestig dat rolmodelle nie noodwendig perfek is nie.
Graad 9 onderwysersgids
Die tema van die lespakket vir graad 9 is fietsry, met die fokus op die aktiwiteit. In Nederland is daar meer fietse as inwoners. Meer as 70% van alle ritte wat in Amsterdam en Rotterdam onderneem word, is per fiets. Oral is daar veilige fietspaadjies en in Nederland en België weet almal dat fietsryers voorrang bo motoriste geniet. Bordjies soos “Fietsstraat. Auto te gast” (fietsstraat – motors is gaste) verskyn oral. Nog voordat hulle kan loop, “fietsen” Nederlandse kinders al. Hulle ry in ’n spesiale sitplek op hulle ma’s se bakfietse. ’n Bakfiets is ’n aflewerings- of vervoerfiets en is eg Nederlands.
Graad 10 onderwysersgids
Die lespakket vir graad 10 het kampeer as tema. Om te kampeer is natuurlik ook eg Suid-Afrikaans – maar ons noem kampeerterreine nie “vakansieparke” nie – soos in die Lae Lande gebeur. Die leerders vertrek vanaf hul eie bekende terrein (Afrikaans en Suid-Afrika) na nuwe wêrelde (Nederlands en Nederland en België). Daar word ook op buitelugaktiwiteite en ’n gesonde leefstyl gefokus.
Graad 11 onderwysersgids
In graad 11 se lespakket kom sprokies en stede aan die beurt. Leerders word blootgestel aan die opwindende stadslewe in Brussel en Amsterdam. Die geskrewe en visuele tekste dien as ’n lusmakertjie: nie net om hierdie stede eendag te besoek nie, maar ook om te besef watter geleenthede hier gebied word. Verder word daar ook gehoop dat leerders bewus sal word van die gevare van die stadslewe. Maar aan die einde van die neonboog is daar skatte te vinde: studie- en sportgeleenthede, goeie werk, nuwe sosiale netwerke, en veel meer.